Rolspelers in die eiendomsbedryf het gister met die bekendmaking van dié sektor se bemagtigingshandves gehoor daar word van hulle vereis om jaarliks ontwikkelings in onderontwikkelde gebiede aan te pak.
Elma Kloppers
Rolspelers in die eiendomsbedryf het gister met die bekendmaking van dié sektor se bemagtigingshandves gehoor daar word van hulle vereis om jaarliks ontwikkelings in onderontwikkelde gebiede aan te pak.
Konkrete teikens vir bemagtiging is ook vir die eerste keer gestel.
Die teiken vir ontwikkelingsbelegging is 10% van die jaarlikse beleggings. Dié vereiste is kommersieel gesproke een van die moeilikste vereistes om aan te voldoen.
Mnr. Andi Tondi, voorsitter van die stuurkomitee, sê townships, voormalige tuislande en landelike gebiede tel as onderontwikkeld omdat daar nie voorheen in hulle belê is nie, gegewe Suid-Afrika se politieke geskiedenis.
Hy sê vir die eerste keer word 'n gewig van 8 uit 100 aan beleggings in onderontwikkelde ge biede geheg.
Die tweede vereiste is dat 35% van eiendomsbates wat verkoop word, aan bemagtigingsmaatskappye moet wees. Die gewig uit 100 in dié geval beloop 9. Met hierdie teiken word beoog om swart eienaarskap van eiendom, wat nog beduidend onderverteenwoordig is, op te stoot.
Die teiken vir voorkeuraankope in die sektor is hoog (70%) en dra 'n gewig van 16 uit 100.
Me. Marna van der Walt, uitvoerende hoof van Gensec, sê die doelwit van 70% moet egter saamgelees word met 'n glyskaal wat vervat is in die handvesdokument. Dit maak dié vereiste makliker haalbaar.
Wat stemregte rakende eienaarskap betref, is die voorgestelde teiken 25% plus 1.
Tondi sê die teiken is gestel om minderheids- teen meerderheidsaandeelhouers te beskerm.
Om gelyke indiensneming te bevorder, moet 35% van bestuurders op senior bestuursvlak swart wees.
Die teiken vir swart vroue in senior bestuursposisies is 10%. Op middelbestuursvlak is die teiken vir swart bestuurders 35% en vir vroue 12%. Die teiken vir swart junior bestuurders is 50% en vir vroue op dié vlak 20%.
Tondi sê daar word aan 'n meganisme gewerk om klein ondernemings uit te sluit van die vereiste 25%- swart eienaarskap.
Dit sal geskoei word op die departement van handel en nywerheid se riglyne, waar ondernemings met 'n jaarlikse omset van R3 miljoen nie aan die telkaart hoef te voldoen nie.
Die handves moet nog bekragtig word en sal van 1 Januarie volgende jaar geld.
Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

