Die Johannesburg Development Agency (JDA) se strategie om nuwe beleggers na Newtown te lok deur die bekendstelling van 'n groot ontwikkelingsone in die gebied, het behoorlik vlam gevat.
Die JDA, Blue IQ en die Johannesburg Property Company het gister bekend gemaak dat die ontwikkeling van 'n leefstylkompleks in Newtown aan die ontwikkelingsgroep C-Max Investments toegeken is. Dié kompleks is deel van die JDA se nuwe ontwikkelingsone, Central Place, wat daarop gemik is om nuwe lewe in dié historiese gebied te blaas. Dié sone, wat nege ontwikkelingspersele in Newtown behels, is tussen Jeppestraat in die noorde, Gochstraat en die M1 in die weste en Presidentstraat.
C-Max Investments is 'n konsortium wat bestaan uit Ikamva Labantu, 'n swart bemagtigingsvennoot en die Zenprop-groep. Die groep gaan die perseel oorkant die Sci-Bono Discovery-sentrum en die perseel langsaan ontwikkel in 'n leefstylkompleks van 20 000 m² met kleinhandel-, kantoor- en residensiële komponente. Die ontwikkeling van R200 miljoen sal as No. 5 en No. 6 Central Place bekend staan. Mnr. Rodney Weinstein, direkteur van C-Max beskryf die persele as uniek met 'n asemrowende uitsig oor die stad, groot oop ruimtes en 'n lewendige energie. Hy glo dis die perfekte tyd om residensiële huisvesting in die gebied te vestig. Hy sê pryse van wooneenhede sal begin op sowat R400 000 en die 12 luukse dakwoonstelle sal vir meer as R1 miljoen verkoop.
Die eerste huurder vir die kleinhandel-ontwikkeling is Nando's, wat 'n nuwe konsepafsetpunt daar gaan vestig. Nando's het gister gesê die stap is sy eerste tree om na die hart van die stad toe uit te brei.
Die aankondiging volg op die hakke van die kantoor-en-kleinhandelontwikkkeling, No. 1 Central Place, wat in 2005 sy deure sal open. Die Gautengse toerismeowerheid het gister bevestig dat hy 'n tien-jaar huurkontrak onderteken het vir ruimte van 1 870 m² in die ontwikkeling. Me. Terry Tselane, uitvoerende hoof van die owerheid, sê die instelling se hervestiging van Rosebank na Newtown bevestig hul vertroue in die toeriste-potensiaal van Newtown.
Mnr. Graeme Reid, uitvoerende hoof van die JDA, sê die middestad-herlewing is nou 'n werklikheid, wat ekonomies sin het. Die verdere ontwikkeling van Newtown vul die bestaande toeriste-attraksies aan, waar veral die Nelson Mandela-brug tot die beduidende ommekeer bygedra het. Hy sê die JDA is op koers om Newtown terug te gee aan die stad se inwoners.