Die aankondiging van die ontwikkeling van The Mills, die nuutste en grootste opgraderingsprojek in Newtown, Johannesburg, gaan die herlewing van dié gebied 'n beduidende ekonomiese hupstoot gee.
Na verwagting sal The Mills, wat oor 12 000 m² strek en agt geboue behels, die ekonomies-kulturele spilpunt van Johannesburg word. Die gebied spog reeds met die Markteater en top-restaurants, en The Mills kan verdere diversiteit en kleur aan die omgewing verleen.
Historiese sjarme
Huurders sluit in Nuwe Afrika-ondernemings soos Elements Advertising and Marketing, The Songwriters Club, Media Diversity, Business Arts South Africa en Sound Fusion, wat meen Newtown is die plek waar 'n mens moet wees.
The Mills kombineer die historiese sjarme van ou Johannesburg met 'n moderne Eerstewêreldse Afrika-styl. Om by te dra tot die geskiedkundige karakter word al die oorspronklike fasades behou, asook die staalvensters, stelle trappe en houtvloere.
Die naam van die ontwikkeling is heel gepas ontleen aan die Premier Millinggroep, wat vroeër sy graan in van die geboue gemaal het.
Die eerste gebou van die projek is voltooi en die restourasie van die volgende een sal eersdaags begin. Daar word gehoop dat 'n primêre gerief swinkel, soos Woolworths, en ander hoë-profielwinkels plek in die ontwikkelingsruimte sal huur.
Kommersiële sin
Mnr. Morné Wilken, eiendomskonsultant van ENB Korporatief se eiendomsfinansieringsafdeling, sê die groep was aanvanklik skepties om die projek te finansier. Nietemin het die kommersiële sin van die sakeplan die groep oortuig om in die ontwikkelaars se droom te belê.
The Mills is 'n Urbsol Props-ontwikkeling en lede van die beslote korporasie sluit in mnre. Paul Wygers, , Ludwig Hansen, Alex Steppe en Patrick Flanagan. Tot dusver is R11,2 miljoen in die projek belê.
Volgens Wilken het private belangstelling in die gebied aansienlik toegeneem nadat Blue IQ sy herlewingsprogramme aangekondig het. ENB Korporatief meen dat sowat 50% van die beleggings in die Newtown-gebied deur private ondernemings gefinansier word.
Vernuwing van stad
Flanagan glo in internasionale modelle, waar stede hulself vernuwe deur sterk op sekere gebiede te fokus. Deur die gebiede skoon te maak, in hulle te belê en dit dan te bestuur, kan 'n hele stad stelselmatig opgegradeer word.
New York is 'n uitstekende voorbeeld van waar dit suksesvol reggekry is. Gebiede soos Soho, Greenwich Village en ander gebiede het positief bygedra tot die makro-omgewing van New York.